‘n Kopskuif is nodig

Vergete Jesus-Model 

‘n Kopskuif is Nodig

Deur Francois Carr

Jesus van Nasaret is ongetwyfeld een van dié betekenisvolste figure in die geskiedenis, ’n man met onmeetbare invloed in die wêreld. Waarskynlik het niemand in die geskiedenis mense meer gefassineer, mense meer aangetrek, mense meer geïnspireer, maar tog ook kwater gemaak as Jesus Christus nie. So, wie was Jesus en hoe het sy invloed toegeneem? Hy is gebore in ’n gewone Joodse gesin, wat in ’n klein Midde-Oosterse staat gewoon het wat onder wrede militêre besetting was. Hy het sy eerste dertig jaar ’n lae profiel gehandhaaf en gedoen wat ons almal doen – werk, eet, lag en slaap. Jesus was ook ’n getroue Joodse seun wat God aanbid het. Toe op ‘n dag, op die vasgestelde tyd, het Jesus vanuit die “agtergrond” tot die ‘voorgrond’ getree en in die openbaar beweer dat God se Koninkryk aangebreek het en het Hy mense geroep om ’n radikale nuwe lewenswyse aan te neem.                                                                     

Geroep en toegerus

Jesus het vir drie jaar lank lig en leiding in sy dissipels se lewens uitgestort, waarna Hy aan hulle die opdrag gegee het om na die hele wêreld uit te reik tot eer van sy Koninkryk. Jesus het hulle toegerus met al die geestelike gawes wat hulle tydens Pinkster nodig sou hê vir die taak.

Waar het dit alles begin?

Jesus se bediening het begin met sy deelname aan die groeiende herlewing van Johannes die Doper. Hy het mense aangetrek en geestelike leiers kwaad gemaak met sy radikale boodskap van bekering. Hy was soos die Billy Graham van sy dag. Hy het vir Jesus gedoop in die Jordaan rivier en hom bekendgestel as die “Lam van God”(Joh. 1:19-26).  Jesus kon onmiddellik sy bediening, dissipels en skares oorneem. Hy het egter van ‘n atmosfeer van herlewing weggestap en is deur die Gees die woestyn in gelei (Luk. 4:1).

‘n Nuwe manier van lewe en dien

In daardie tyd is Johannes in die tronk gegooi en dit het die skares sonder ‘n leier gelaat en die gevaar dat die beweging uitmekaar kon spat. Die oomblik toe Jesus hoor sy neef is in die tronk gegooi (Matt 4:12-19) het dit gelei tot ’n verandering in sy manier van lewe en dien. Wonderwerke het plaasgevind. Jesus se populariteit en skares het gegroei. Dissipels is gemaak. Leiers is opgelei. En as gevolg van sy verandering het die boodskap, bediening en beweging gegroei. 

Vergete Jesus-Model

Jesus het ’n eenvoudige plan, strategie en metode gevolg. Hy het begin om sy tyd en energie te belê in die twaalf, wat sy Vader vir hom gegee het, en daardeur sy bekende wêreld verander. Dit het begin met intieme gesprekke wat hulle verander het.

Wanneer gaan jy begin?

Jesus se model is vandag nog dieselfde. Dit het by Sy dissipels begin en nou het daardie opdrag, ons opdrag geword (Matt. 28:18-20). Kan hedendaagse kerkleiers gewone mense bemagtig om hulle volle potensiaal te bereik? Die antwoord is ja … mits ons sy uitnodiging aanvaar en ’n verandering in ons manier van lewe en dien. Dit het nie net húl lewens verander nie, maar het dit ook ’n blywende impak op die wêreld gehad. Dit is tyd om terug te keer na die vergete Jesus-model. Dit is tyd om die volgelinge van Jesus te wees en tee word wat ons bedoel is om te wees. Dit is tyd vir ‘n ‘kopskuif’. Wat is jou keuse? Wanneer gaan jy begin?